Lees saam boeke oor die onderwerp en laat die outjie dan ‘n opstel daaroor skryf.  Lees dit saam deur om seker te maak dat dit goeie inligting bied en interessant is.  Die woordeskat moet op die kind se vlak wees en indien ‘n nuwe woord bekend gestel word, kan die outjie dit aan sy maats verduidelik.  ‘n Kwinkslag of twee kan die mondeling interessant hou.

  • Stap vorentoe, kry die bladsye gereed, haal asem, kyk op en glimlag.  Raak kalm.
  • Dink aan ‘n juffrou wat boeke voor lees of iets interessants vertel.  Wissel die stemtoon af en praat harder of sagter om klem op sekere terme of beskrywings te lê.
  • Maak kartonkaarte met kernwoorde,-sinne of -prente daarop.  A5- of A4-grootte behoort goed te werk.  As ‘n mens dit dupliseer in ‘n blaaiboekvorm, kan julle die kaarte met sleutelringetjies bind en blaai tydens die mondeling. Sodoende hang die prent waaroor die outjie praat na die klas se kant om belangstelling te behou en kan hy na sy eie weergawe op die keersy loer as hy verward raak.
  • Indien die onderwyser ‘n groot plakaat wil sien, plak ‘n A2-karton teen die bord en staan langs die prent.  Vir klein lyfies, kan ‘n mens ‘n stok of liniaal gee om na prente of dele van die plakaat te wys.  Maak seker dat die woorde of prente groot genoeg is.
  • Dit is belangrik om die mondeling te ken en op te kyk na die sprekers.  As die outjie benoud is, kan ‘n mens dit aanmoedig dat die outjie bo-oor die koppe kyk.  Oefen dit.
  • Maak seker dat die woorde korrek en duidelik uit gespreek word.
  • Moenie die mondeling aframmel na die einde se kant toe nie.

Indien dit meer soos ‘n redenaarstoespraak is, kan julle hier loer vir idees 😉