Iemand het onlangs vir lesidees oor grond gevra. Hiermee dan so ‘n paar idees…
Eerstens kan ‘n mens vrae vra soos “Wat is grond?” “Waar kry ‘n mens grond?” “Wat is die verskil tussen grond en sand?” (‘n Mens kan seker vooraf ‘n saadjie in grond en een in sand plant om te kyk watter een die plantjie sal help groei.) “Hoe lyk grond?” Vrugbare grond is donkerig en vol klipperigheid. Plante, bome en selfs diere soos molle lewe daarin. Grond het verskillende lae – van ‘n rotsbank diep onder die oppervlak tot die bolae wat sag en los genoeg is vir die wortels van plante. (Dalk kan ‘n mens ‘n “blok” grond iewers uitspit en vir die outjies die lae daarin wys.) Maak ‘n groot muurcollage om die verskillende lae in gond aan te dui. Teken vooraf die buiteraam en gee vir verskillende groepe die opdrag om ‘n spesifieke laag te bestudeer (gee boeke, prente of voorbeelde). Die groep kleur dan die bladsy in met groot klippe en donker grond, klein klippies en ligter grond, ‘n laag met boomwortels en later ‘n laag met gras. As jy wil kan ‘n mens die lae vooraf teken, laat inkleur en die kinders gesamentlik laat besluit watter laag onder, bo, ens. sal wees.
As dit moontlik is, kan ‘n mens klei-, leem- en sandgrond onderskeidelik vir hulle wys. Gee vir hulle ‘n paar geskrewe vrae, ‘n sif en ‘n vergrootglas. Hoe lyk die grond in die blou bak? Hoe voel dit? Strooi ‘n koppie vol grond deur die sif. Wat bly op/in die sif agter? Hoe groot is die stukkies? Watter kleur is dit? Kan jy ‘n modderkoekie daarmee vorm? Val dit uitmekaar? Hoe ruik die grond in jou bak as dit droog is en as dit nat is? ‘n Mens kan stasies opstel met verskillende klanke (letters), syfers, vorms en patrone teen die muur geplak. Die kinders kan dan hul skrif in die verskillende tipes grond “skryf”. Dit is sommer ‘n lekker sensoriese aktiwiteit én kan dien as deel van intervensie.
Vrugbare grond is belangrik om plante en bome gesond te hou. Wat maak grond swak? Dink aan erosie, sterk wind en verspoeling. Hoe sal ons die grond bymekaar hou? Demonstreer erosie deur ‘n gieter water oor ‘n skuins geligde bak sand te giet. Daarna kan ‘n mens water oor ‘n blok gras giet.
Sny plastiekbakke of groot, 5 liter-waterbottels in die helfte, maar behou die tuit. Gebruik dieselfde grond om die onderskeie bottels te vul. Kry ‘n sooi gras (blokkie by die skoolopsigter) wat jy bo-op ‘n lagie gruis “plant”, strooi vir ‘n tweede bottel en los die derde bottel net so. Hang bakkies onderkant die tuite en laat die outjies help om dieselfde hoeveelheid water in elke bottel te gooi. Kyk hoe vinnig die hangende bakke vul en hoe helder die water is. Vergelyk. NB: Deursigtige houers verseker dat meer kinders kan sien wat gebeur…andersins moet die klas in klein groepies verdeel word.
Hoe hou ‘n mens die grond gesond? Hier kan ‘n mens ‘n bietjie oor kompos en komposhope gesels. Dalk kan ‘n mens ‘n kwekery besoek of iemand van ‘n kwekery nader om die prosesse te verduidelik. As julle in ‘n boerderygemeenskap woon, kan ‘n mens ‘n boer of plaaswerker as spreker gebruik en selfs ‘n plaas besoek.
Dink kan die belangrikheid van erdwurms, kompos en bemesting. Vul ‘n deursigtige houer (bv. ‘n koeldrankbottel met dreineringsgate – of selfs ‘n geseëlde CD-omhulsel) met verskillende lae klippies en potgrond (potting soil). Saai saad wat vinnig opslaan of plant ‘n plantjie. Laat die kinders ‘n paar erdwurms saam bring skool toe en voeg dit by die houer. Die erdwurms behoort elke nou en dan sigbaar te wees – veral as dit ‘n dunnerige of nou houer is. Indien julle eerder ‘n wurmhouer wil maak, kan julle ‘n geskikte plekkie buite soek om die wurms en komposhoop aan te hou. Onthou om die houer toe te hou – met die Hadeda’s in gedagte. Dalk kan die klas met die wurms, wurmtee of vrugbare grond woeker of ‘n bydrae lewer tot Boomplantdag!
[Maak julle eie jellie erdwurms deur rooi jellie in strooitjies te laat stol.]
marlene
Jul 18, 2012 @ 19:51:34
Fantasties! Vreeslik dankie vir die grond inligting. Waardeer x
LikeLike
juffer
Jul 19, 2012 @ 16:18:11
😉
LikeLike
Adrie
Jul 29, 2012 @ 18:08:54
Dis baie werkbaar dankie! Nou soek ek dringend ‘n Afr. gediggie/rympie oor grond of sand
LikeLike
juffer
Jul 29, 2012 @ 18:34:13
Dalk kan jy vir ons een skryf, Adrie 😉
LikeLike
Robyn
Jul 29, 2012 @ 21:07:19
asseblief help moet n hipotese ondersoek oor watter grond die beste is vir plantegroei waarna kyk ek wat se ek ?
LikeLike
juffer
Jul 30, 2012 @ 16:22:07
Middag, Robyn 😉 Leemgrond is mos die donker, vrugbare grond – soos potplantgrond (potting soil). Dalk kan jy iets sê soos: ‘n Ondersoek om te bepaal of leemgrond die mees geskikte grond is om lewe te onderhou…’n Ondersoek om te bevestig dat leemgrond geskik is om plantegroei te onderhou…Klink hierdie stellings nader aan ‘n hipotese? 😆 Ek het lanklaas daarmee gewerk 😉
LikeLike
Elzané
Jul 25, 2016 @ 17:47:47
Helo 🙂 Ek moet ‘n les vir graad 2 leerders aanbied oor grond (met klem op die verskeie tipes grond), ek wou graag sand-, leem- en kleigrond skool toe gevat het sodat hul daaraan kon voel en daarna kon kyk om die les meer interessant te maak asook vir ‘n effektiewe leerervaring, maar dit sal nie moontlik wees nie. Enige ander idees wat ek dalk kan gebruik om steeds die les interessant en effektief te hou ?
LikeLike
Juffer
Jul 25, 2016 @ 18:35:19
Hallo, Elzané 😉
Miskien kan jy verskillende muurprente maak (een vir elke grondsoort), die grond beskryf, noem waarvoor dit gebruik kan word en prente daarvan byvoeg. ‘n Kwekery mag dalk vir jou voorbeelde van die grond hê.
LikeLike
Elzané
Jul 25, 2016 @ 22:19:36
Dankie vir die hulp x
LikeLike
Juffer
Jul 25, 2016 @ 22:38:32
Dis ‘n plesier 😉
LikeLike
Kyla Hoffman
Aug 03, 2021 @ 12:15:03
Goeie middag. Ek moet ‘n les vir graad 2 leerders aanbied oor grond. Die drie verskillende tipes grond gaan behandel word. Ek soek goeie idees wat ek kan gebruik vir ‘n inleiding wat die leerders se aandag sal trek en asook die aanbieding en afsluiting wat interresant sal wees. \
LikeLike
Juffer
Aug 03, 2021 @ 14:27:19
Loer gerus na die idees in die skrywe 🙂
https://myklaskamer.com/tag/grond/
LikeLike