Screen Shot 2015-08-19 at 17.57.40 Adri het gevra oor ‘n paar idees i.v.m. vervoer…As ek aan ‘n les of ‘n tema rakende vervoer dink, wil ek hoofsaaklik op die drie “gebiede” van vervoer dink, naamlik:  Lug-, see- en padvervoer.

Koppel spesifieke kriteria aan elkeen soos spoed, grootte van voertuig, ensovoorts.  Reis jy vir die lekkerte, vir werk, vir plig, vir nood… vir beskerming?  Hoekom is daar iets soos ‘n wiel ontwerp?  Is die vorm van die wiel doeltreffend?  Hoe het voertuie of vervoermiddels ‘n honderd jaar gelede gelyk?  Hoeveel het die voertuie ontwikkel sedertdien?

Lugvervoer:

‘n Mens kan met groot, kommersiële vliegtuie van een stad na ‘n volgende én tussen lande vlieg.  As die Springbokke Wêreldbeker toe gaan, sien jy altyd die span op die lughawe.  Kies hier ‘n spesifieke vliegtuig wat julle dikwels op die naaste lughawe sien.  Afhangende van die ouerderdomsgroep kan ‘n mens woordprobleme opstel oor die hoeveelheid sitplekke wat benodig word vir ‘n netbal-, rugby-, krieketspan, gesin of ‘n skool om oorsee te vlieg vir ‘n toer.  Bv. Daar is * dogters in die netbalgroep, * seuns in die rugbygroep en * onderwysers in die toergroep.  Hoeveel sitplekke moet tannie Susan bespreek vir die toergroep?

‘n Mens kan lekker speel-speel vlieg deur kaartjies te bespreek, uit te ryk, tasse volgens gewig te pak…Dink aan werkvelle waar jy woordprobleme dek soos Die tas mag nie meer as 30kg weeg nie.  Ma se tas weeg 54kg.  Hoeveel kilogram weeg Ma se tas te veel? …  Dit is nou 15:00.  Ons moet om 16:10 op die lughawe wees.  Hoeveel minute het ons oor om daar te kom?  (Hierdie tipe somme sal moontlik met ‘n sterk Graad 2-klas of Graad 3-klas gedoen kan word.)

Buiten groot vliegtuie kry jy ook ligte vliegtuie waarmee ‘n mens kan vlieg. Hulle is baie kleiner, weeg minder, kos minder geld om te onderhou…Hoeveel weeg die een vliegtuig minder as die ander? Hoeveel kos die een minder/meer as die ander? Die Cessna 182 kan * mense vervoer en die Boeing 747 kan * mense vervoer. Hoeveel mense kan die Boeing meer vervoer as die Cessna?  Moenie van die helikopter vergeet nie.  Hoe verskil die helikopter van ‘n vliegtuig?  Hoe vlieg ‘n helikopter sonder vlerke?

Dan kry jy ook vinnige vliegtuie. Hoekom is sekere vliegtuie vinniger as ander? Vegvliegtuie is vinnig om die teenstander te verras. Wat beteken dit om die klankgrens te oorskry? [Vreemde vliegtuig vrae, beginsel van vlieg, styg]

Buiten baie vinnige lugvervoer, is daar ook vreeslike stadige vlieënde tuie.  Dink maar net aan die lugballon.  Dit bestaan uit ‘n reuse ballon wat deur warm lug in die lug gehou word…en jy hang onder die ballon in ‘n mandjie!  In die ou dae was dit ‘n baie gewilde manier van vervoer, maar deesdae is dit ongelukkig ‘n romantiese luuksheid…

Padvervoer:

Hierdie tipe vervoer is meer bekend aan ons.  Dit behels voertuie wat op paaie beweeg soos vragmotors, taxi’s, busse, motors, motorfietse, fietse, ensovoorts.  Kyk na die outjies in die klas en kies dan vervoermiddels wat wydverwyderd tot na aan hul milieu is.  Bv. ‘n groot lang-afstand vragmotor, ‘n gesinsmotor / taxi en ‘n trapfiets.  Hoeveel wiele het elkeen van hierdie vragmotors? Hoeveel verskil die gewigte?  Hoeveel keer tel jy in tweë om die aantal wiele te tel?  Hoeveel wiele het 3 motors?  4 driewiele? 2 fietse?  Hoe beweeg elkeen?  (trap, enjin…met diesel, met petrol, met spierkrag…) Het jy al ooit gehoor hoe klink ‘n Ferrari, ‘n Bugatti, ‘n Rolls Royce of ‘n Porche? Skakel sommer self hierdie motors aan…

padamazon

Verskillende soorte padkleeflint – hoeke, draaie, reguit

Spoorvervoer:

Treine loop nie juis op die pad nie, maar val seker ook onder die afdeling van landvervoer.  Hier kan ‘n mens trokke tel en aspekte soos die spoed van ‘n trem, ‘n gewone trein en die Gautrein meet en bespreek.  As iemand ‘n treinstel het, kan hulle dit skool toe bring vir die uitstalling. In Gauteng kan julle ‘n rit mee maak en in plekke soos Kaappunt of Kimberley kan ‘n mens op die trem ry. Maak sommer ‘n ellelange trein vir die gang – met foto’s van die kinders se gesigte in die ruite.

Seevervoer:

Dink aan luukse skepe, olieskepe, vinnige skibote, seiljagte, kano’s…Sommige bote is so groot dat jy daarin kan slaap!  Ander is so groot dat jy ‘n kamer kan bespreek soos in ‘n hotel.  Sommige is net so groot soos die skepe waarin jy kan vakansie hou, maar word gebruik om goedere van een land na aan ander of tussen stede te verskeep.  Seiljagte gebruik seile om mee te beweeg as die wind waai, maar jy moet jou slag met ‘n spaan ken om ‘n kleiner bootjie – veral ‘n kano – aan die gang te hou. Beweeg bote of skepe net bo-op water?  Nee, duikbote duik en beweeg onder die water…

As jy na die verskillende afdelings kyk, kan jy beslis aan die afsonderlike woordeskat werk soos “verskeep, spaan, vlerk”.  Wend ‘n besliste poging aan om voorbeelde van die onderskeie vervoermiddels in jou omgewing te soek.  Soek ‘n vliegveld of ‘n lughawe, ‘n hawe of voorbeelde van bote, ‘n vragmotor, fietse, ensovoorts.  Julle kan plekke besoek of mense nooi om te kom gesels.  As jy ver van water is, is daar sekerlik ‘n inwoner van die dorp wat al op ‘n skeepsreis was of iemand wat by ‘n toerismeburo gewerk het.  Hou die koerante dop en loer na al die advertensies vir vliegkaartjies en skeepsreise.  Dit kan deel word van jou werskvelle.  Maak jou klas op soos ‘n toerismeburo…

veiligheid 

*Flitswoorde (spikkelskrif)

pad/baan kleeflint

vervoermiddels inkleurprente

Liedjie: Ons ou motorkar

  1. Ons ou motorkar
  2. Trein
  3. So ry die trein