Iemand (E 😉 ) het onlangs gevra hoe ‘n mens die i en u klanke kan vas lê. Dalk kan ander mammas ook hierdie idees nuttig vind…(Gemik op Graad 1-vlak.)

In die meeste gevalle hanteer ons die klanke wat verwar word apart van mekaar.  “i” en “u” veroorsaak verwarring omdat beide klinkers is en dus net “uit die keel uit spring”.  Ek verduidelik vir die kleintjies dat i ‘n skraal outjie is wat liggies gesê word (sê dus i in ‘n hoë stem).  Die u lyk sommer moeg soos ‘n ou wat baie hard gewerk het.  Hy laat my dink aan iemand wat sommer so ‘n diep duik op ‘n bank maak as hy lê.  Hy sug en lê op sy rug.

Spandeer so tien minute aan die i en u afsonderlik.  Gee vir die outjie die buitelyne van ‘n i en vra dat hy dit met wit papiertjies moet skeur en plak. (Daar is mos ‘n i in wit.)  Hy moet dan prente rondom die klankie teken wat met ‘n i begin of waarin ‘n mens i kan hoor (in ‘n houer, ink, vis, bid, sit).  ‘n Mens kry nie sommer ‘n i alleen aan die einde van ‘n woord nie (uitsonderings sluit “ski” in).

As julle die u moet inkleur kan julle ‘n donkerige kleur gebruik.  As julle donker vingerverf het kan julle met ‘n vinger vol verf die u (in die skryfrigting) begin bedruk. Met elke druk kan julle “u” lekker diep sê.  ‘n Mens voel maar lekker laf met hierdie dinge, maar hoe meer dramaties ‘n mens raak hoe makliker onthou die outjies dit.  u is nooit alleen aan die begin van ‘n woord nie en klink ook nie soos ‘n u aan die einde van ‘n woord nie (eers later sal hulle aan woorde soos slu bloot gestel word).  Dit staan meestal in die middel rond (rug, brug, sug, druk)

As julle prente uitknip en plak kan jy die i of u woord daarby skryf.  Maak ook ‘n kolletjie weergawe sodat die outjie dit kan natrek.  As jy die i woorde behandel kan jy flitskaarte maak en prentjies by teken om dit te illustreer (in, ink…)…Doen dieselfde met die u woorde.  Julle kan dit afsonderlik flits, later ‘n tweede stel maak om snap te speel of om ‘n memory game te speel.  Indien die outjie ander sigwoorde ken, kan julle sinne met die flitskaarte maak.  Kyk na senteacher.org se literacy printables om ‘n basiese uitleg vir flitskaarte te kry.  Jy tik die woorde, kies ‘n letterformaat en druk.

Ek hoop die idees kan dalk vir julle ook help.  Kyk ook na hierdie skakels: