Die Wêreldbeker sokkertoernooi is een van die dae hier en ‘n mens kan verskeie dinge doen om die kleingoed geïnteresseerd te maak.  Ek het so ‘n paar werkvelle en “inspirasies” opgespoor oor sokker en oor verskeie Wêreldlande. “Lande van die wêreld” val seker nog nie heeltemal in hierdie kwartaal se beplanning nie, maar die terloopse inligting behoort voorbrand te maak vir die latere tema’s. Sonder ‘n hoekie, muur of gang af waar die outjies meer oor die deelnemende lande en die sokkertoernooi kan leer. Gebruik die idees om dalk Engels as tweede taal aan te bied of om nuwe woorde aan te leer. Hou ‘n paar velle inkleurprente of aktiwiteite een kant vir die verveelde outjies. Natuurlik kry ‘n mens ekstra spesiale plakkers vir jou ekstra werk :wink:.
Bespreek die vorms van die blokke op die bal. Dit het vyf sye en word ‘n pentagoon genoem. Hoeveel van hierdie blokke sien jy op ‘n sokkerbal. Hoeveel is wit? Hoeveel is swart? Verdubbel die aantal blokke. Hoeveel kry jy? Wat gebeur as ek die wit blokke met die aantal swart blokke vermenigvuldig? Hoeveel sye het 3 blokkies?…en al die blokke altesaam?
Het jy geweet dat daar geboue in hierdie vorm bestaan? Die Pentagon in Amerika en die Kasteel in Kaapstad is twee voorbeelde van so ‘n vorm.

Maak ‘n prentjie met ‘n paar vyfhoeke. Maak sjablone uit x-straalplate, sodat die kinders dit kan aftrek. Laat die outjies dit uitknip en op die rug van ‘n dinosourus plak.Vou vyfhoeke en maak ‘n klas vol sterre daarvan. Dit behoort die kleingoed ure lank besig te hou. Het jy geweet dat as jy die bene of punte van ‘n sterretjie omvou – jy ook ‘n vyfhoek kry?! Doen dit sommer met plakkers.

…Daar is ook blokke met seshoeke!  (Duidelik is Juffer nie ‘n sokker kenner nie.)  Nou het ek weer ‘n ding raak gesien! Wat daarvan as elke kind ‘n seshoek uit ‘n stukkie lap knip en met lapverf verf.  ‘n Knap juffrou of mamma kan dan ‘n klaskombers maak.  Ek wens ek kon self so ‘n deken maak! Dit lyk altyd so mooi en snoesig 😉

Gee vir elke outjie ‘n seshoek om uit te knip en ‘n spelwoord om daarin te skryf.  Bou ‘n heuningkoek teen die muur en siedaar! ‘n Spelles, vormles én fynmotoriese ontwikkeling in een!  Ek sou op eu-woorde gefokus het om by die heuningkoek aan te sluit, maar enige iets sal werk.

Neem ‘n bladsy vol vorms en vra die outjies om slegs die vyfhoeke of seshoeke te omkring vir visuele diskriminasie oefeninge.  Maak patrone op lang strokies en gee los vorms. Vra dat die kleingoed die patrone napak of dat hulle dit nateken.  Jy kan die vorms in verskillende kleure maak – sodat die patroon die volgorde van kleure ook insluit. (vyf-en-seshoeke)

Verskaf bladsye met verskillende groottes seshoeke, vyfhoeke en sirkels.  Gee die kinders die vryheid om hul eie prentjies met die vorms te pou (knip en plak).

Wat weet ons van ‘n bal? Wat is die vorm se naam? ‘n Sfeer.  Dis ‘n opgeblaasde sirkel…Waar kry ons sfere? Noem maar op: planete, die son, die maan, balle, gloeilampies, krale…

Blaas borrels met seep (buig ‘n draadjie in ‘n sirkel en maak lekker seepwater aan – vir buite spel).  Blaas borrels in ‘n seperige oplossing…gebruik strooitjies en drup ‘n paar druppels voedselkleursel in die seepsous.  As die outjies hard genoeg blaas, borrel die glas oor en kan ‘n mens ‘n papier bo-op druk.  Die borrels gee ‘n oulike tekstuur op die bladsy.

Speel met balle – groot, klein, grof, swaar, lig, wollerig (tennisbal)…ryg sfeervormige krale in om halsnoere te maak…Het iemand dalk ook oulike idees?

(sokker-soektog en tweeklanke-woordsoeke)

(doolhof en sokkerbal-inkleur)

Zakumi (Laat maak jou eie Zakumi)

Inkleurprente van die sokker – insluitend Soccer City en Tafelberg (oulik)