This slideshow requires JavaScript.

[Dubbel-, twee- en drieklank muurkaarte]

Spel oefeninge

Hier is ‘n paar idees om tydens klankvaslegging te gebruik.  Doen dit alles in ‘n werkboek of op los blaaie.  Beloon goeie werk en spog ‘n bietjie by die ander gesinslede.

Screen Shot 2015-09-01 at 15.57.39Screen Shot 2016-05-30 at 13.31.46

  • Enkelklanke:
    • Skryf die klank (bv. t) op Grootman se rug of in sy handpalm.  Hy moet dit dan identifiseer.
    • Vra Grootman om ‘n woord te noem wat daarmee begin.  Indien die woord ‘n rymwoord het, kan julle probeer om oulike rymwoorde te vind.  Bv. tas, das, mas, las, pas, kas…
    • Skryf die aanvanklike woord bo-aan die bladsy neer en vra Grootman om die ander woorde onder hierdie woord te lys.  Bespreek die woorde om te verseker dat hy verstaan wat elkeen beteken.  Teken prente langs die woorde of skryf ‘n sin daarby.
    • Grootman moet nou aan ‘n woord dink wat eindig op die gegewe klank (bv. kat).
    • Knip ‘n kolom uit ‘n ou tydskrif-artikel (bv. Huisgenoot).  Vra dat Grootman die klank soek en omkring.  Tel die klanke.  (Dalk kruip daar nog weg.)
    • Grootman moet die klank groot op ‘n bladsy neerskryf.  Maak seker dat hy op die regte plekke begin.  Hy kan nou aan vier of vyf items of diere dink wat daarmee begin en dit rondom die klank teken  (bv. tier, tien, tande, tone, televisie…).  Grootman hoef nie altyd net die klank te skryf nie.  Hy kan bo-oor die letter “skryf” met gom en dan stukkies gekleurde papier daarop plak of sand daaroor strooi.  Hoe meer kreatief hy raak, hoe lekker is die lees- en leerprosesse.
    • Speel “name, vanne, diere, dorpe”.  Kyk of julle aan ‘n naam, ‘n van, ‘n diersoort en ‘n dorp kan dink wat met die klank begin.
    • Woordfamilies:  Dit werk soos rymwoorde (bv. alles wat op -en, -aar, -oen eindig).  Sit byvoorbeeld ‘n vel papier onder of in ‘n lêersakkie en skryf met ‘n witbord koki -os daarop. Pak ‘n los Scrabble-blokkie of skryf ‘n klank voor die -os.  Werk dan deur die klanke wat die outjie ken en sê bv. b-os-bos. Is daar so ‘n woord? Indien ja, skryf die woord op ‘n papier oor skryf en teken ‘n prentjie daarby.  
    • Hersien ‘n bietjie die klanke wat reeds behandel is:  ‘n Mens sal ‘n kombinasie van dinge moet gebruik.  Neem die klanke wat reeds behandel is stuk-vir-stuk.  Wys dit.  Wat is die klankie? Sê dit sommer saam met hom, bv. “s”.  Watter prentjies op die storie se prent begin met “s”?  Slang, son, sand, seuntjie…Skryf die woorde vir hom neer en teken rowwe tekeninge by om die geheue te verfris.  Hy kan dan ‘n sin gee.  Help hom om die moeilike woorde te skryf deur dit neer te skryf en laat hom ‘n prent by teken.  As julle lus het, kan ‘n mens ‘n groot s skryf op papier (sien die drukbare bladsye se “robot- en muurkaarte”).  Laat hom die s met gom “skryf”.  Strooi dan iets wat met die klank begin bo-oor (bv. sout, suiker, sand).  As dit droog is, kan hy daaroor voel.  So kan ‘n mens verskillende prente in ‘n boek maak of bind, teen die muur plak of in ‘n lêer hou.

  • Dubbel-, twee- en drieklanke:
    • Gebruik dieselfde idees as by die enkelklanke, maar verseker dat Grootman weet dat die klanke nie meer as a-a of o-u geklank mag word nie.  Dit is nou eenhede soos aa, ou, ui en eu.
    • Knip die meegaande klanke kaartjies uit, plak ‘n breë strook kleeflint daaroor vir beskerming en bêre dit in ‘n houer.  Op verveelde oomblikke kan Mamma of Pappa ‘n kaartjie trek en vir Grootman vra om dinge in die huis te soek wat daardie spesifieke klank bevat.  Hy moet dit dan neerskryf en kom wys.
    • Draai die klanke kaartjies om en vra vir Grootman om een te trek.  Mamma of Pappa moet dan aan twee woorde dink wat die klank bevat.  Ruil die rolle om en maak beurte.  Skryf die woorde neer en vra Grootman om ‘n oulike sin met elkeen te skryf.
Tik soekterme soos “klanke, hersien, muurkaart, dubbelklank, tweeklank, drieklank”  by die bruin soekblokkie hier aan die regterkant in vir nog drukbare idees.