herwinning

Ek het besluit om vanjaar ‘n herwinningsprojek aan te wakker in my klas.  Die besluit is egter makliker as die “oorgaan in aksie”, maar tog behoort dit die moeite werd te wees om te probeer.

Wat kan ek alles herwin?  Basies alles wat weggooibaar is in ‘n gewone klas.  Kontak die volgende plekke om uit te vind waarheen jy die items kan neem of hou jou plaaslike koerant dop vir herwinningsdepots.  Daar is dikwels fondsinsamelingsopsies betrokke.

Cambriarecyles gee oulike idees en lesse. Daar is selfs ‘n reseppie om jou eie papier te maak.

Vir lesidees en werkvelle is Kidzone, abcteach, mieliestronk en planet pals staatmakers. Ek het ‘n paar blogs en webwerwe raak gelees waar oulike en kreatiewe idees gegee word om te gebruik in leerareas soos tegnologie.

Wat van…?

  1. Snippermandjies van snippertjies…Gebruik die skool se snippers en muurpapiergom. Plak en bou die vorm oor ‘n bestaande drommetjie en siedaar!
  2. Plekmatjies en versierings van ou legkaarte…Grawe in die stoorkamer vir ou en halwe legkaarte. Niemand kan dit tog gebruik as die stukke onvolledig is nie. Teken ‘n vorm, knip dit uit en plaas dit onder ‘n deursigtige stuk plastiek of glas. Pak die stukke legkaarte binne die raampie en bou dit op. Muurpapiergom is ‘n lekker dik pasta en gee ‘n “vernisde” gevoel as jy na die tyd ‘n lagie oor die skepping verf.
  3. Versier die klas met ou potlode en penne…Kies ‘n item en versier dit. Maak byvoorbeeld ‘n raam vir die venster of aansteekbord met die opskrif “Kyk hoe hard het ons gewerk” of “Potloodmuseum”. Ek het iets soortgelyks in ‘n klassie gesien – waar die juffrou potlode korter as die kind se middelvinger summier “afgeskryf” het. Kort potlode is immers nie ‘n goeie ding nie, want die belemmer ‘n goeie potloodgreep en postuur.
  4. Penneblikkies…gebruik ou kosblikkies, versier en gebruik dit op die tafels vir skryfbehoeftes…of laat plak ‘n klomp aan mekaar vas en sit dit vas teen ‘n dun plankie. Hang die plankie teen die muur op, merk die blikkies met die leerders se name en siedaar! Briewebussies vir nota’s, huiswerkvelle, omsendskrywes ensovoorts.
  5. Rol die bladsye van ‘n vernielde storieboek styf op en bind met ou haarnaalde vas.  Maak vorms soos harte – vir vinnige potloodhouers.
  6. Afgeskryfde boeke (veral met die harde omslae) se blaaie kan vas geplak word.  Plak so ‘n paar vas aan mekaar om ‘n stewige eenheid te vorm, plaas ‘n kussinkie bo-op en jy het ‘n oulike stoeltjie vir die leeshoekie.  Jy kan hierdie idee selfs inspan om die deur oop te hou of om jou boeke en lêers teen te rus op ‘n lomp boekrak! …of maak ‘n boekrak
  7. Selfoon of i-pod beskermers? Weef of brei ou wol, repies materiaal, sak of fyn draad om ‘n reghoekie te vorm.  Vou dit om en werk die kante toe.
  8. ‘n Kweekhuis gemaak van ou plastiekbottels…
  9. Herbenutting en so ‘n bietjie “eenvoudige tegnologie
  10. Engelse herwinningswerksvelle

Is daar ‘n paar juffrouens of mamma’s met oulike idees?  Kyk sommer na Strijdom van der Merwe se kunswerke.