tweeklanke

This slideshow requires JavaScript.

‘n Mamma het onlangs ‘n navraag gerig oor die verwarring van tweeklanke. Hiermee dan so ‘n paar gedagtes vir die Graad 2- en 3-outjies wat sukkel met klanke soos oe, ou, eu…

Knip ‘n kolom uit ‘n tydskrif of koerant (in plaas van die hele artikel – wat oorweldigend kan wees) en skryf ‘n spesifieke klank bo-aan. Vra jou kleinding om dan byvoorbeeld net die oe-klank te omkring en om te sê hoeveel hy gekry het. Hy moet die woorde dan netjies oorskryf op ‘n oe-bladsy. Kyk of hy dalk ‘n woord gemis het. As hy almal gekry het en reg geskryf het, kan hy ‘n belonging of klein bederfie kry. (‘n DVD vir die naweek of iets…niks duurs of spandabelrigs nie.) Plak die papier teen ‘n deur vas of iewers waar hy gereeld verby sal stap. Toevallige lees verrig wondere. Skryf vir hom sinne met die woorde (bv. Ek moet die groen boek soek. Die koek lê op die handdoek.) en plak dit by die woorde op. Vra jou kleinding om dit neer te skryf. Julle kan dit sommer in ‘n werkboek doen en dan kan hy iets daarby teken. Boeta kan ook deur ou tydskrifte blaai, oe-woorde uitknip (gebruik opskrifte) en in die boek plak. Maak julle eie flitskaarte – sommer twee stelle. Flits net eers die woorde en speel dan “snap” of ‘n “memory game” (waar die karate onderste bo lê en jy die pare moet omdraai en pas).

Doen eers julle oe-ontwikkeling klaar (vir ‘n dag of drie) en pak dan ‘n heeltemal ander klank aan voordat julle die ou aandurf. Dit keer net dat ‘n mens deurmekaar raak.

‘n Seun wat ek help het sy eie assosiasies gemaak. Hy ken die oe-klank as die oe vir koek. Nou sê hy telkens “oe…koek” (soos een wie se mond water vir ‘n lekker stukkie koek) en ou-nou (“oh no” met ‘n sug) as hy die ou sien. Dit werk om die een of ander vreemde rede vir hom.

Baie kinders verwar die ee– en eu-klanke. Behandel die ee-klanke eers en dan op ‘n volgende keer die eu. ee is ‘n jong outjie en eu is sy ouboet met die diep stem. Ons spreek dit ook onderskeidelik met ‘n normale en ‘n diep stem uit. Die u in eu laat ‘n mens ook dink aan ‘n diep bakkie, daarom spreek ons dit dieper uit. Weereens werk dit nie vir almal nie. Toets dit gerus en probeer alternatiewe metodes. Laat weet ons asseblief as dit werk.

ui en ei…Ek teken prentjies of gebruik clip art. Weereens word die ui dieper uitgespreek as die ei. Behandel elkeen apart (en volg dit op met die y). Dit help om die woorde visueel voor te stel. Ek teken byvoorbeeld ‘n “bakkie” soos die u in ui vir woorde soos tuin en kruiwa. Ek kan suiker in ‘n bakkievormige koppie gooi. ‘n Kruiwa het ‘n bakkie-vorm en as ek ‘n boom wil plant, grawe ek ‘n bakkie-vorm in die tuin. Ek slaan ‘n duik in die deur met my vuis en druk ‘n bakkie-vorm in die modder met my duim. ei staan bekend as die “plat” ei, omdat dit ‘n plat strepie in het. Die trein moet op ‘n gelyke, plat spoor ry en lyk self ook ‘n bietjie plat. ‘n Eiland se waterlyn lyk soos die plat strepie in die e…en so gaan ‘n mens maar voort met jou eie idees.

As ons ei sê trek jou lippe styf of reguit soos die lyntjie in die “e”. As ons ui sê, gebruik ons ‘n dieper stem – wat so diep sak soos die “u” 🙂

‘n Paar lees-lusmakers vir lui lesers: Los gereeld notas op baie sigbare plekke. Bv. teen die kamerdeur: Ek wonder of Jannie sy kosblik in die wasbak gesit het…Ek is trots op jou netjiese kamer…in die kosblik: Ek hoop jy het ‘n lekker dag…Allerhande skriftelike dinge op snaakse plekke gee hom die geleentheid om alleen te lees – sonder die frustrasie van sukkel voor ander. As hy sukkel met sekere aspekte soos die oe-klank, kan jy ‘n koek liggies bokant die woord teken. As hy sukkel om bv. uu en ee as ‘n geheel te lees, kan jy dit onderstreep om die “eenheid” aan te dui. …en natuurlik is lees en leesstof ‘n vereiste, want Juffer sê so 😆 Koekeloer en soek vir ou Storieman-reekse, sodat die lui lesertjie kan luister en volg. Neem stories op – as daar reekse op die radio speel of sommer tuisgemaakte / eie stem opnames. ‘n Mens hoef nie vreeslik uitgawes aan te gaan nie… Laat weet gerus as hierdie idees kon help 😉

Tik gerus soekterme soos “hersien, klanke, dubbelklank, tweeklank, drieklank, flits” by die soekblokkie aan die regterkant in vir nog idees.