vrugte

Vrugte

Wanneer ‘n mens na vrugte en groente kyk, kan ‘n mens dit bespreek en sorteer volgens hoe hulle groei (aan ‘n boom, ‘n rank, in die grond, aan ‘n bos…), hoe dit geëet word (gaar, rou, in ‘n slaai, wiggies, gedroog…), kleur, grootte…

Watter tipe vrugte kry ‘n mens?  (bv. tropies, sitrus, bessies…)

Kan jy ‘n reënboog vol kleure eet?  Watter vorms is die vrugte?  Sommige vrugte lyk soos druppels – ander soos sterre.  Party het punte – ander het stekelrigheid.  Watter vorms sien ek in die vrugte as ek dit oop sny?  (driehoekige wiggies/segmente, ronde sade/korrels, ovaalvormige sade)

‘n Mens speel nie met jou kos nie, maar watter kreatiewe idees kan jy gebruik om ‘n gesonde bord te skep?  Gee vir die outjies opsies op ‘n vrugtebord en ‘n lappie om die hande skoon te hou.

  • Sny vrugte soos druiwe lengtegewys in die helfte om wurms te bou op die bord.  As die outjies klein is, kan jy ‘n gidslyn op die papierbord teken – waarop die outjie kan bou.
  • ‘n Mens die halwe korrels as blare in bome gebruik en takke van pretzel- of vrugtestokkies maak.
  • Maak vrugteslaai volgens die tipe vrugte van die dag.
  • Maak vrugtedrankies (smoothies).
  • Sny die vrugte in kleiner stukkies en sorteer dit op ‘n groot bord…of gee koekdrukkers om vorms uit te druk.  Maak sosaties volgens patrone.
  • Kan ‘n tannie of ‘n mamma vir die outjies wys hoe om ‘n eenvoudige konfyt te maak?  Eet dit later saam met klein panne- of plaatkoekies.
  • Bou patrone volgens ‘n prentekaart.
  • Voltooi die patroon
  • Watter vrug lyk anders?
  • Maak vrugte-ysies.  Skryf die outjie se naam op ‘n roomysstokkie, steek die roomysstokkie in ‘n houertjie met sap en bessies van sy/haar keuse.  Vries en bedien teen die einde van die dag.
  • Sny dun skywe of snye vrugte.  Knyp dit aan ‘n vislyn of gespande tou vas.  Laat die outjies na die verskillende teksture en kleure loer.  As jy wil, kan ‘n mens ‘n lig agter die vrugte skyn.  Dit mag gou verlep, dink dus aan ‘n plan om die vrugte koel te hou.
  • Maak verskillende kleure klei.  Watter tipe vrugte kan ‘n mens met daardie kleur (bv. pienk, rooi, groen, oranje, geel, pers) maak?
  • Soek Engelse vrugtewoorde
  • Tel die vrugte / kies die getal /meer en minder
  • Maak vrugteklossies (pom-poms)
  • Vou 3D-vrugte (lekker speel)
  • Vrugte en Groente Inkleurprente

 

bessies

Kyk ook na idees vir ‘n gesonde kosblik…