Soos wiskunde, het lees ook verskeie aspekte of boublokke om die leser se vaardighede te versterk.  Dit sluit fonemiese bewustheid, leesbegrip, klanke, vlotheid en woordeskat ontwikkeling in.

Fonemiese bewustheid dek die begrip dat ‘n woord uit verskillende dele bestaan.  Ek hoor die begin-, middel- en eindklanke…Ek kan ‘n woord verskaf wat rym met…

Klanke is die dele waaruit woorde gebou word:  klinkers / vokale, medeklinkers, klanksamevloeiings (br-, -ng, sw-…), dubbelklanke (aa, ee, oo, uu), tweeklanke (ui, oe, eu…) en drieklanke (aai, eeu…).  As die leser nie sy klanke ken nie, kan hy nie die woord ontsluit (lees of spel) nie.  Dus is ‘n goeie kennis van klanke belangrik.

Vlotheid het te make met die vloeiendheid van lees.  Dit steun nogal sterk op die leser se vermoë om dele van woorde en hele woorde met die eerste blik of oogopslag te herken.  ‘n Groot hoeveelheid woorde val onder die konsep sigwoorde of hoë frekwensie sigwoorde.  Hoe vinniger en hoe meer akkuraat hierdie woorde gelees word, hoe meer vloeiend lees die kind.  Vlotheid neem egter hande met sigwoorde én leestekens.  Die kennis van leestekens en hul gebruike, maak die leesproses ‘n outomatiese proses.  Dink maar net aan jou bestuursvernuf.  Jy weet hoe om verkeerstekens en padaanwysings te gebruik sonder om twee maal te dink.

Woordeskat ontwikkeling is ‘n lekker en spesiale oefening wat deurgaans kan plaasvind en sonder veel “stres”.

Gebruik die vakansie om spelenderwys en op ‘n ontspanne manier aandag aan die konsepte van lees te skenk en lees, lees, lees 😆 Koop ‘n boek of ruil uit met ‘n vriendin.

Time4learning is ‘n Amerikaanse webwerf wat ook hier en daar verklarings oor leesontwikkeling oulik voorstel.  Gaan loer gerus…

Tik voorts soekterme soos “lees, leeslys, sigwoord, woordeskat, abc, klanke, hersien, dubbelklank, tweeklank, drieklank, flits…ouditiewe, visuele, ogies, rympies, engels” by die bruin soekblokkie laer af aan die regterkant in vir verskeie idees.