liedjies

7 Kommentaar

luister

Luister na kinderliedjies aanlyn…

Lees die…

Ou televisiestories is aanlyn beskikbaar.  

storieman

7 Kommentaar

Die Storiemanboeke is terug!

plaasdiere

Lewer kommentaar

Op die plaas is daar baie diere, maar vir die kleinspan moet ‘n mens die getal verminder.  Ek fokus eers net op hoenders, perde, beeste / koeie, varke…

‘n Idee om die tema bekend te stel is om van die diere se geluide te speel sodat die leerders dit moet identifiseer (Wat maak so?).  Die kleintjies kan raai, maar vir ouer kinders kan ‘n mens ‘n geheime koevert gee.  In Graad 1 is die koevert gevul met prentekaartjies (met die dier se naam daarby), maar in Graad 2 is die koevert gevul met prentekaarte en los klanke.  Die outjies moet in Graad 1 die prent wys en die naam lees, maar in Graad 2 bou hulle self die name en pas dit by die prente.  Die outjies kan in groepies of pare werk vir ‘n bietjie spangees.  Soos hulle die diere reg raai, kan jy die vergrootte prente teen die bord aanbring.  Smile het ‘n oulike legkaartstel (met ‘n kasset of CD vol dieregeluide) gehad.  Ek is seker dat hulle dit steeds verkoop.

As jy die diere gaan bespreek, kan jy die onderskeie produkte op die plakkate aanbring of uit stal.

  • Koeie verskaf leer, vleis en melk…
  • Hoenders gee vleis en eiers…
  • Perde is ‘n vervoermiddel en is soms trekdiere weens hul brute krag…
  • Varke gee vleis…

Wat eet die onderskeie diere? Waar woon elkeen? Wat noem ‘n mens die mannetjie, die wyfie en die kleintjie?  Watter aksies voer hulle uit (wei, skrop, kekkel, snork, rol, gallop…)?

Vir dialoog- of fantasiespel kan die outjies in groepe verdeel word en maskers gebruik om plaassake te bespreek.  Maak dalk julle eie maskers tydens die kunsles.  Vir varkmaskers kan ‘n mens mediese maskers pienk kleur (flou, rooi voedselkleursel) en ‘n snoet bo-op plak of met drukwerk aanbring.  Jy kan ook ‘n papiermasker maak vir die dialoog gedeelte. Koeie kan met swart kolle versier word en perde kan in bruin vingerverf getooi word. ‘n Skaap kan ‘n lagie wol uit wit watte kry. ‘n Hoender kan ‘n parmantige haan of ‘n sagte hen wees. As jy regte vere kan kry, plak dit bo-op die kop en verf die bel en kam bloedrooi.

As jy reeds die maskers gemaak het, kan julle ‘n luisterspeletjie speel deur die onderskeie diere geluide te speel. As die outjie sy dier hoor, moet hy opstaan. Dit kan ‘n lekker uitvangspeletjie word.  Afhangende van die ouderdomsgroep kan die outjies wat opstaan die dieregeluide benoem, bv. runnik, loei, blêr, kekkel…

Vir oulike Engelse gedigte kan jy hier gaan loer. Hulle dek ‘n verskeidenheid diere en gedigte. Tel die diere of leer om die dierename in Engels te skryf.

As julle ‘n muur collage wil maak met plaasdiere, skep eers die agtergrond. Verf ‘n groot vel papier in twee dele – blou lug en groen gras of selfs koringlande. Bring ‘n skuur aan en rig ‘n windpomp op. As julle tyd het kan die kinders die agtergrond met sponswerk bedruk voordat julle die skuur en die windpom plak.

Maak die diere van papierborde, die hoenders van uitgeknipte handafdrukke of uit papierdosies. Knyp ingekleurde of geverfde diere in wasgoedpennetjies vas sodat dit sommer as bene dien of maak handpoppe van papiersakke. Maak ‘n varkie deur papier maché bo-oor ‘n ballon te doen. Dit neem lank om droog te word, maar sodra dit hard en droog is, kan jy die varkie verf en versier.

Lekker speel en leer!

Oupa John vertel oulike stories

4 Kommentaar

Hier is ‘n CD met lekker luisterstories vir die jongspan.  Oupa John het verskeie oulike stories saam gestel – wat beslis ‘n aanwins vir die kleingoed se CD-versamelings sal wees.

“Die Afrikaanse stories is skoon, avontuurlik, sonder allerlei feetjies en drake of enige demoniese invloede. Dis vermaaklik maar met ‘n ietsie opvoedkundigs en geestelik. Ons wil stories aanbied waarmee die kind kan identifiseer, maar wat verseker met die werklikheid verband hou.”

Die cd’s kos R50 stuk plus dan die bietjie posgeld. Dit kan direk by ons bestel word by Telefoon 082 811 0669 of 072 132 0074. Ons e pos adres: leonie.goosen3@gmail.com

karnivore

3 Kommentaar

Anna het genoem dat sy ‘n kritles moet gee oor Karnivore.  Hiermee dan so ‘n paar idees om dalk te gebruik.

Wat is ‘n Karnivoor?  Dit is ‘n dier wat jag vir sy prooi, dit dood maak en dan eet.  ‘n Mens kry karnivore wat mak is en ander wat wild is.  Hulle het slagtande wat ideaal is vir hierdie jagproses. Daar is gewoonlik twee in die bo- en twee in die onderkaak.  Anders as planteters (herbivore), het karnivore skerp tande om vleis mee te skeur en te eet.  Kan jy die karnivore van die herbivore onderskei in hierdie prente?

Watter ander eienskappe sal ‘n karnivoor nodig hê om sy prooi te vang?

Hulle is dikwels goed gekamoefleer – met kolle, strepe of pelse wat spesifiek by hul omgewings pas. Waar woon die wilde karnivore?  Hierdie unieke pelse help die diere om lank genoeg weg te kruip of hulself weg te steek, sodat hulle die prooi kan bekruip.  Die karnivoor sal spesifieke bewegings hê om die prooi uit te oorlê – spring, sterk, besonderse vinnige atleet, sluip…’n Karnivoor het ook dikwels skerp kloue om die prooi mee te vang en vas te hou.

Ek sou graag wou hê dat so ‘n les ‘n opvoedkundige uitstappie moes volg of inlei, sodat die outjies met die ware jakob kan kennis maak.  Kies een spesifieke karnivoor as voorbeeld en bou die les dan rondom die spesifieke dier.  As jy byvoorbeeld toegang tot ‘n jagluiperd het en ‘n kuiertjie kan reël, sal die outjies die tande, die pels, kloue en atletiese bou kan aanskou.  As jy dalk ‘n kort video kan maak van ‘n kuiertjie by so ‘n dier, kan jy dit dalk aan die klas wys.  As jy regtig nie by ‘n wilde karnivoor kan uit kom nie, kan jy selfs makker outjies soos ‘n huiskat inroep en na die kleiner outjie kyk.

Bou dalk ‘n karnivoor uit pottebakkersklei of teken en verf die spesifieke dier as deel van ‘n kunsles.  Hersien die terminologie verbonde aan die dier as deel van Natuurwetenskappe en Huistaal (pote, kloue, slagtande, welpie, leeuwyfie, leeumannetjie, pels).  Kies ‘n paar karnivore, soek sketse van hul tande of kake en betrek dit by tel oefeninge en wiskunde somme (Watter karnivoor het die meeste / minste tande?  Hoeveel tande het die __ meer as die __?).

Kyk ook na die skrywe oor wilde diere en die volgende oulike skrywes elders.

Lees: motivering en aanmoediging

8 Kommentaar

Iemand het idees gevra om luierige lesers te motiveer om meer te lees.  Vir lui lesers kan ‘n mens ‘n beloningskaart maak – ‘n basiese almanak-uitleg met groterige blokke (sien kalender).  Op Grondslagfasevlak kan boekies redelik vinnig gelees word.  Maak ‘n kolletjie vir elke boek wat klaar gelees is – nadat julle ‘n paar begripsvragies gevra het – en besluit op ‘n prys.  As die outjie byvoorbeeld 10 boekies gelees het, kry hy / sy ‘n plakkerboekie, ‘n mooi skryfblok of kan julle ‘n DVD huur.

  • Skryf kort notatjies vir die kosblik.
  • Plaas ‘n bestelling vir ‘n toebroodjie en skryf die bestanddele neer (as dit iets soos ham en tamatie bevat, kan jy die snye vooraf in bakkies bêre om die proses makliker te maak).
  • Webwerwe soos TwistyNoodle het inkleurprente waarby jy jou eie sinne en woorde kan tik en druk.  Maak ‘n inkleurboekie vol sinne om “toevallig” te lees.  As ‘n paar vriendinne sulke boeke saam stel, kan ‘n mens weekliks ‘n ander boekie maak en uitruil.
  • Bak en brou saam of besluit op ‘n ete.  Gaan dan saam deur die koskaste en stel ‘n inkopielys saam.  By die winkel kan die outjie die benodigdhede lees en tuis kan hy / sy die resep ‘n paar maal nagaan om seker te maak dat julle alles gebruik het en dat die stappe reg gevolg is.
  • Soek telefoonnommers in ‘n telefoongids op.  Maak dit op die regte bladsy oop en vra vir hom / haar om ‘n oom of tannie se nommer op te soek.  Julle kan dalk ‘n paar nommers in die huis se eie telefoonboekie nagaan – om “seker te maak dat alles nog reg is”.
  • Blaai deur foto-albums en lees sommer so saam-saam die byskrifte.  Die inligting is relevant tot die outjie se familielewe en behoort hom / haar te interesseer.
  • ‘n Koppie koffie of “hot chocolate” kan ‘n lekker verskoning wees om te lees terwyl die beker afkoel.
  • Gebruik ‘n wekkertjie soos ‘n egg timer om ‘n tyd af te meet waarin daar gelees word. As die outjie regtig teësinnig is, kan julle die wekker stel en saam lees.  Maak beurte – een bladsy vir jou en een vir my.
  • Soek gerus na ou luister- en leesboekies in die biblioteek.  Ladybird het soms sulke kombinasies, maar ek is seker dat reekse soos STORIEMAN en STORIEMUIS nog beskikbaar sal wees.
  • Maak julle eie storiekassette.  Neem stories of gediggies op bandjies, die rekenaar of ‘n selfoon op.  (Stuur gerus vir my.  Ek luister graag!)
  • Gebruik selfs die lirieke van liedjies en neem die outjie op terwyl hy / sy sing – so op ‘n kamma Idols-manier.
  • Maak ‘n klein, spesiale leeshoekie met ‘n sagte kussing, ‘n leeslig en ‘n houer vir boeke.  Die beste opsie sal altyd natuurlike lig (na aan ‘n venster) wees.

Sterkte met die res van die kwartaal!

troeteldiere

4 Kommentaar

J het gevra vir idees oor troeteldiere. Hier is ‘n paar…


Honde:

Katte:

  • Maak ‘n katkaartjie.  Dit hoef nie op swart papier gedoen te word nie.  Gebruik ‘n papboks en pastelle of vetkryt met voedselkleursel (eiergeel werk goed).
  • Deurkaartjie:  Maak ‘n papierkat om aan die deur se handvatsel te hang of versier ‘n houertjie vir katkos.
  • Sny katstensils uit, trek dit af op ‘n ou x-straalplaat, knip uit en gebruik vir
    • spuitverfwerk,
    • spat verf met ‘n tandeborsel daaroor,
    • doen patroonwerk op ‘n vel papier (in helder kleure) en plak ‘n kat uit swart of bruin papier daarop.
  • Inkleurwerk en ander
  • Voetjies vir ‘n raampie of om flitskaarte mee te maak (somme en woorde).

Visse (goudvisse):

  • Inkleurprente en ‘n idee of twee om visse uit papierborde te maak.
  • Les-idees
  • Hoe om ‘n vis te teken.
  • Eenvoudige vis-buitelyn: Gebruik vir sigwoorde, somme en ander flitskaarte of vergroot en skryf ‘n visstorie daarin.
  • Vis doolhof
  • Maak ‘n pragtige, reënboog papierbord vis.
  • Sny die buitelyne van ‘n vis op karton (of ‘n x-straalplaat stensil) uit.  Maak twee identiese visse. Pons dan gate rondom die buiterand en ryg wol of tou daardeur.  Teken patrone met vet- of uitdraaikryte op die visse  (soos skubbe) en verf met voedselkleursel.  Gebruik sommer verskillende blerste kleursel.  Sodra die vis droog is kan jy dit met ou koerant of watte op stop.  Hang dit naby ‘n venster sodat die vissie in die lug kan swem.  Maak ‘n hele akwarium van die plafon.
  • Knip ook ‘n paar vissies uit en hang hulle aan ‘n vislyn op (in ‘n ry).  Skryf dan sommer getalle, veelvoude, ens. daarop sodat die outjies die huidige relevante werk kan oefen.

Voëls:

Ander:

  • Hou ‘n troeteldierdag:  Elkeen kan ‘n troeteldier – indien moontlik – of ‘n foto van ‘n troeteldier bring.  Laat die outjies dan dinge oor die diere vertel (mondeling / “show and tell”).
  • Gebruik gesigverf en maak die gesigte soos honde, katte, ens. op.  Dit behoort ‘n groot lekkerte te wees tydens fantasiespel (kleintjies).
  • Besoek ‘n troeteldierwinkel.  Gaan vooraf na die winkel toe en kyk na die verskeidenheid diere sodat jy takies en vragies daaroor kan opstel.  (Bv. Watter diere word in die winkel verkoop? Teken jou gunstelingvis…)
  • Maak rye voëls, katte en honde onderskeidelik.  Vra dan vragies soos Hoeveel bene het 2 voëls? Hoeveel katte het ‘n bont pels? Hoeveel katte kyk na links? Hoeveel honde kyk na regs? Hoeveel honde staan? lê? Hoeveel ore het vier honde? Hoeveel diere is hier altesaam?
  • Betrek die gepaste woordeskat vir die onderskeie diere: kieue, vinne, werpsel, snor, blaf, miaau, spin, grom, poot…Wat beteken troeteldier? (Gebruik ‘n eenvoudige, groot skets ter toeligting – soos ‘n wetenskapprent.)
  • Kyk na die tuistes, gewoontes en versorging van die diere.  Bv. die voël woon in ‘n hok of ‘n kou, die hond in ‘n hok en die vis in ‘n visbak of akwarium.  Waar beweeg die diere? (land, lug, water) Hoe beweeg die diere? (swem, kruip, loop, hardloop, bekruip, vlieg, fladder…) Hoe eet die diere? (pik, sluk, skeur, byt, kou)
  • Onthou altyd om lekker kleurryke muur- of tema-plakate te maak en om konkrete items uit te stal.  Die plakate kan op A4-karton gemaak word om later in jou lêer te pas.  Gebruik die diere waaroor julle gaan praat en stal van elkeen se items (gegroepeer) uit.
  • Luister hier na diere geluide.

storieman

8 Kommentaar

Iemand het onlangs na die Storieman-reeks gesoek.  Kontak gerus die Luisterbiblioteek in Pretoria vir die Storieman-, Storiemuis- en Rympieman-reekse.  Klik ook op die dokumente om hul ander produkte te sien en om verdere kontakbesonderhede te kry.

Storieman navrae

Rympieman- persverkaring

 

amper in die groot skool

8 Kommentaar

drawing house

Dit is amper tyd vir die groot skool.  Dit is nou tyd vir ekstra werk en speletjies om die vaardighede op te skerp.   Hiermee ‘n paar aktiwiteite om op ‘n lekker speel-speel wyse te doen.  Hou alle “skool” aktiwiteite  of speletjies lekker en informeel.  Indien die kleinding sukkel, stop die speletjie en gaan oor na iets anders.  Skool moenie met ‘n spanningsvolle ervaring verbind word nie…

Ouditiewe Persepsie

(praat agter ‘n skerm soos ‘n koevert of stuk papier – sodat die lippe nie sigbaar is nie)

  •  Watter klankie hoor jy aan die begin?  Wat hoor jy eerste? (Spreek die “vet” klankie met mening uit.  “Oordoen” dit.)

bal

lap

hap

toon

sit

man

nek

rok

  • Watter klankie hoor jy in die middel?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

mot

kat

sit

rek

bus

Later…(Graad 1, 2 en 3)

(Dubbelklanke)

toon, room, foon…

naam, gaap, laat…

vuur, suur, muur, nuut…

meel, veer, neem…

Nog later…(Graad 1, 2 en 3)

(Tweeklanke)

vuil (met ‘n diep stem)

seil (met “plat” lippe)

boek

koud

deur

  •  Watter klankie hoor jy laaste?  Watter klank hoor jy aan die einde?

(KVK – Konsonant, Vokaal, Konsonant)

kat

man

bos

bal

stof

  • Noem vier woorde – waarvan drie identies is.  Watter een pas nie?

Bv. nek, man, nek, nek.

Skuif die “ander” woord rond.  Bv. buk, buk, buk, dak.  hak, hak, tak, hak.

  • Sê twee woorde wat óf dieselfde is óf eenders is.  Bv. seep/seep, doek/boek.  Die kind moet sê of die woord dieselfde of anders is.  (‘n Kop-knik of –skud is ook in orde.)

Geheue

  1. Noem 2 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. mat, pen.
  2. Noem 3 KVK-woorde.  Die kind herhaal.  Bv. tas, bed, rok…Vermeerder tot 5 woorde.
  3. Gee ‘n opdrag met een aksie.  Bv. skakel die lig aan…Vermeerder die aksies tot 4 (mettertyd).  Bv. Skakel die lig aan, maak die deur toe, bring die boek en klim op die bed.

VISUELE PERSEPSIE

Gebruik ‘n besige prent of foto.

  1. Soek sekere items.  Bv. Druk met die vinger op al die geel blomme.  Omkring al die driehoeke.  Omkring al die groot bome.
  2. Kyk na twee eenderse prente en soek die verskille (gewoonlik in aktiwiteitsboeke).
  3. Skryf ‘n klomp syfers rond en bont op ‘n bladsy neer.  Omkring al die 2’s / 3’s / 4’s, ens.
  4. Soek takies soos:
  • Watter prentjie lyk dieselfde as die eerste een?
  • Watter prentjie pas nie?
  • Soek die maats.
  • Omkring al die prente wat met ‘n s begin (oorvleuel met ouditiewe takies).

Geheue

  1. Pak drie speelgoed langs mekaar.  Wys aan die kind.  Bedek na 5 tellings.  Die kind moet opnoem wat hy gesien het.  Later moet hy die volgorde herroep of die items self na pak.
  2. Kyk na 3 tot 5 prente.  Bedek.  Wat het jy gesien?  Was jy reg?
  3. Kyk na ‘n besige prent.  Bedek.  Wat het jy alles gesien?  Wys nou vir my waar is die …?  (Wys die genoemde items uit.)
  4. Wys ‘n eenvoudige lynskets.  Neem weg.  Die kind moet dit teken. (Begin by vorms en dan eenvoudige “simbole”.)
  5. Skryf 2 tot 5 syfers in ‘n ry.  Bedek.  Die kind met dit skryf.

Aksies met rigting-woorde, woordeskat en waardevolle konsepte

  • Druk op die blom langs die huis, voor die boom, links van die motor, regs van die hond…
  • Raak aan jou… (liggaamsdele – ook knie, skouer, elmboog, ken, hak…)
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou …
  • Raak met jou linker- / regterhand aan jou linker- / regter-…
  • Gee aksies om te onthou (soos by die ouditiewe afdeling), maar las rigting by.  Bv. Skuif die gordyn na links en maak die venster oop.  Bêre die glas regs van die wasbak en die bord links van die wasbak.
  • Pak speelgoed in ‘n ry en wys uit.  Watter speelding staan eerste?  Laaste? In die middel?
  • Drie tot vyf prente in ‘n ry:  Watter prent is eerste? Tweede? Laaste? In die middel?  Watter prent kom na die …?  …voor die …?
  • Sorteer prente volgens dinge wat in die oggend (borsel tande, trek aan, eet pap…), gedurende die dag (skool toe, speel) of nag gebeur (slaap, bad…).
  • Deel items uit.  Bv. Verdeel die lekkers tussen twee kinders.  Hoeveel kry elkeen?  Hoeveel bly oor?
  • Kyk na versamelings (3 to 4 groepies).  Watter groupie het die meeste / minste items?
  • Tel voorwerpe.  Skryf die syfer (tot 10).  [Gebruik die regte skrif.]
  • Volg die stippellyn.  (bv. van die kat tot by die muis)
  • Volg die doolhoof.
  • Knip op die lyn (reguit lyne, effense kurwes…)
  • “Lees” logo’s soos die name van bekende winkels, eetgoed, koeldrank, padtekens…
  • Bou legkaarte.
  • Lees BAIE stories, sing liedjies, sê rympies op…maak stories op, maak gediggies op…

Rig ‘n hoekie vir “lekker werk” iewers in die huis in.  ‘n Hoekie in die slaapkamer sal fantasties wees. ‘n Spesiale houer vir kryte, potlode en veselpenne (koki’s) kan op die “lessenaar” staan – met baie afvalpapier (ou blaaie met skoon agterkante is ideaal). Knip verskillende vorms uit x-straalplate of skaf stensils (selfs ou deksels, plekmatjies…) aan. Hou ‘n verskeidenheid “teken-” of “verfgoed” aan. ‘n Mens hoef nie net met ‘n kwas te verf nie. ‘n Ou skeerkwas, sponsie, oorstokkies en vingers is fantasties. Hou maar altyd ‘n ou lappie (die dun, blou kombuislappies is baie handig) naby om die vingers skoon te hou. Indien daar nie ‘n voorskoot naby is nie, kan gate uit ‘n inkopiesak geknip word vir die kop en arms. Siedaar! ‘n Weggooibare voorskoot. ‘n Tafeldoek kan uit ‘n swartsak geprakseer word. Pep het egter rolle plastiek (in oulike ontwerpe) om spesiale en goedkoop tafeldoeke te maak.
Stempels hoef nie duur en gekoopte items te wees nie. ‘n Een-sessie stempel kan uit aartappels gemaak word. Sny die aartappel in die helfte, “teken” jou ontwerp met die mespunt en kerf rondom. Dit gee dieselfde effek as ‘n stempel en is sommer “personalised” vir die kleinding. Groter kinders kan natuurlik woorde stempel – indien iemand 26 klanke wil kerf :wink: Vra ook vir vriende of daar nie ongebruikte, ou stempel by die kantoor lê nie – vir ‘n skenking. Kantore en fabrieke het dikwels ou afvalmateriaal, plakkers en diesmeer wat kleingoed op kreatiewe wyses kan gebruik.
Gebruik gemorspos, ou koerante en tydskrifte:
Maak klein winkeltjies in die kamer (woordeskat ontwikkeling)…
Gebruik gemorspos om die logo’s uit te knip en plak dit teen die muur vas. Hoeveel selfone is daar in jou winkel? Watter selfoon is die grootste? Kleinste? Wat verkoop jy in hierdie winkel? Waar gebruik ek hierdie items? Sorteer prente van meubels en elektriese apparaat volgens vertrekke. Waarvan hou jy?
Gebruik die prente in gemorspos om ‘n huis te versier. Gebruik ‘n ou doos (of verskeie) om “pophuise” te maak – met meubels, matte, mense, ens. Wees lekker kreatief, maar doen hierdie aktiwiteite SAAM MET die kleinding. Die doel van hierdie kreatiewe werk is om baie te gesels, om woordeskat aan te leer en te ontwikkel, om die handjies besig te hou en om die verhouding tussen ouer en kind te versterk.
Lekker speel!

Belangrike dinge: Graad R en 1

6 Kommentaar

GROOT SKOOL

Wanneer die fondamente vir lees en leer gelê is en die kind die aspekte bemeester het, begin hy ryp word vir formele onderrig.

As die leesproses begin voor die gereed is om die inligting in te neem, kan dit lei tot lees- en leerprobleme.  Sonder ‘n sterk grondslag, kan die gebou ineen stort.

Die kind

Gereedheid

Nie alle kinders bereik ‘n gereedheidspunt op dieselfde kronologiese ouderdom nie.

As ‘n kind nie emosioneel ryp is nie, kan die leerproses spanning en gedragsprobleme veroorsaak.

‘n Tekort aan selfvertroue kan die kind verhoed om te waag om te lees.

§Die kind behoort geïnteresseerd te lyk in boeke – inkleur, teken, “skryf”, blaai en “lees”.

§Die kind behoort ag te slaan op gesag.

§Die kind behoort met ander te kan saamwerk.

§‘n Verantwoordelikheidsbesef behoort gevestig te wees.

§Onafhanklikheid in terme van

·Toilet roetine / gebruik

·Veters knoop

·Eet en drink (voeding)

·Aantrek

‘n Kind wat emosioneel nie gereed is nie, kan uiting gee aan sy frustrasies op die volgende wyses:

§hardloop weg

§kruip weg

§aggressiewe optrede teenoor maats

§weier om te werk

§enurese (benatting) en enkoprese (bevuiling)

 Loer ook na "skeidingsangs" aan die regterkant.

Intellektuele / kognitiewe ontwikkeling

Die brein se vermoë om nuwe begrippe en konsepte te verstaan (soos veral wiskunde).

  • Fisieke aspekte

Gesondheid

§Voortdurende en kroniese siektetoestande kan die leerproses belemmer.

Sensoriese aspekte

§Die volle gebruik van die ore (gehoor) en oë (visie en oogbewegings) is nodig om suksesvol te kan lees.

§n Gebrekkige gehoor en ouditiewe vaardighede verhoed die kind om opdragte korrek te hoor en om klanke met simbole te assosieer.

§‘n Gebrekkige visie en visuele vaardighede belemmer die kind se vermoë om simbole te lees en te verstaan.

  • Spraak en uitspraak

§Verstaanbare uitspraak is belangrik, sodat die kleinding kan skryf wat hy hoor.  Veral outjies wat lispel sal die “s” vervang.

§Korrekte taalgebruik en sinskonstruksies is belangrik om sinne verstaanbaar te skryf.

§Die korrekte gebruik van die “skool-“ of “leertaal”, help die kind om te begryp wat onderrig word.

  • Oriëntering

Kennis van rigting keer dat letterformasies (vorming) en syfers in die verkeerde rigting gedraai word.  (e.g. u / n, b / d / p, t / f…)

Belangrik:

§‘n begrip vir die verhouding van vorms tot mekaar (naby / ver, bo / onder…),

§kennis van bo, onder, links, regs…

§kruising van die middellyn

·behoort die denkbeeldige middellyn te kan kruis

  • Visuele waarnemingsvaardighede

§As die kind nie die verskil tussen prente, items of simbole kan sien nie, mag hy moontlik probleme ontwikkel om die verskil tussen syfers, letters en woorde te sien (b / d / p, 2 / 5, 9 / 6, t / f).

§Woorde kan verkeerd gespel word (bad / dab, net / uet)

§Woorde kan verkeerd gelees word.

§Die volgorde van klanke in ‘n woord kan verkeerd gelees word (kat / tak / akt).

  • Ouditiewe persepsie

§As die kind nie die verskil tussen klanke kan hoor en begryp nie, gaan dit lei tot spel- en leesfoute.

·Die kind sal moontlik iets anders skryf as wat die juffrou sê. bv. woot inplaas van boot, bat in plaas van bak

§As die kind daarmee worstel om tussen klanke te onderskei, sal hy moontlik nie ‘n spesifieke klank kan hoor nie.  “Bv.: Watter klank hoor jy eerste as ek kat sê?” (k).  Dit sal ‘n direkte impak hê op die kind se vermoë om woorde te skryf.

  • Fynspier bewegings

Die hand se vermoë om fyn aksies uit te voer, beïnvloed die kind se vermoë om netjies en vloeiend te skryf.  Dit word vooraf gegaan deur die ontwikkeling van die grof of groot spiere (maag-, arm-, beenspiere…).

  • Dominansie

Links- of regshandigheid behoort gevestig te wees  (moenie die kryt tussen die hande ruil nie).

Voorskoolse aktiwiteite:

  • lees vir die kind voor
  • praat gereeld en voortdurend met die kind om woordeskat uit te brei en goeie taalstrukture te vestig
  • gebruik die taal waarin die kind sal skoolgaan
  • sing liedjies, sê gediggies op, vertel stories oor
  • tel
  • bespreek prentjies (Wat gebeur? Wat kan gebeur? Wat dink jy sal volgende gebeur?)
  • voorspel wat in die storie sal gebeur deur na die voorblad te kyk
  • bepaal wat links en regs is (ons draai nou links)
  • ontwikkel terme soos eerste, aan die begin, in die middel, laaste
  • benoem kleure en vorms
  • vestig goeie ouditiewe en visuele vaardighede
  • vertel ‘n storie terug (geheue)
  • omring deur stories, boeke, rympies, gedrukte materiaal
  • ritme (dit beïnvloed ‘n begrip taalgebruik en wiskundige patrone)
  • oog-hand koördinasie
  • WOORDESKAT ONTWIKKELING

(dankie aan Grové en Hauptfleisch se slimgeit)

Kobus Weyers het ‘n vraelys om te voltooi op sy webwerf.  Dit gee ‘n goeie aanduiding of jou kind skoolgereed is al dan nie.


(‘n Graad R-leerplan
 en die 2012-kurrikulum (CAPS)

Older Entries

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 1 740 other followers

%d bloggers like this: