Kinder Beskermingsweek

Lewer kommentaar


Daar is  min dinge wat my so grief soos ‘n verwaarloosde kind…en daar vergeet ek toe byna dat dit Kinder Beskermingsweek is.  Ek heg ‘n paar skakels na webtuistes aan waar u kan inligting kry oor kinderregte en -veiligheid.

Dis ‘n onderwerp waaroor ‘n mens moeilik praat, want ons wil veiligheid en versorging van kinders as vanselfsprekend aanvaar.  Ongelukkig is daar kinders in elke klas wat dalk wees gelaat is, mishandel word, honger ly…noem maar op.  Die maatskaplike probleme en uitvalle vorm ‘n belangrike kwelpunt in die versorging van kinders.  Daarom is dit een van die eerste dinge waarna ons as opvoeders moet kyk…Sukkel die kind dalk akademies of op sosiale vlak weens huislike probleme?  Gebeur daar dinge tuis (of elders) wat die kind se psige kan afbreek?  Is daar iemand in die skool wat sal kan help indien ‘n kind mishandeling of verwaarlosing aanmeld? Waar meld ek die kwessies en probleme aan?

In ons skool praat ons weekliks in graad-verband – die sogenoemde leerderbesprekings.  Probleme word dan skriftelik in ‘n boek genoteer en aan die Opvoeder Ondersteuningspan (OOS / EST / ILST / Hulpspan) gerapporteer.  Indien daar aspekte soos maatskaplike probleme genoem word, word dit met die hoof van die Hulpspan (in ons geval die skoolhoof) bespreek en ‘n plan van aksie word bedink.  Ongereelde skoolbywoning tel ook onder hierdie afdeling.  Die situasie word gemonitor en die opvoeder gaan voort om kontak met die ouers te probeer maak om die saak aan te roer.  Teen die einde van die kwartaal sit die Hulpspan met elke opvoeder en word elke leerder op die klaslys bespreek (± ‘n periode per klas / opvoeder).  Ons probeer dan om saam aan oplossings te dink.  Bv. ‘n geleentheid skool toe saam met ‘n buurman of die beskikbaar stelling van ‘n klas vir die voltooiing van huiswerk…Dit maak nie saak hoe eenvoudig of hoe ingewikkeld die probleem is nie – dit word aangeraak. Indien ons nie seker is of die probleem by maatskaplike dienste aangemeld moet / kan word nie, skakel ons die maatskaplike werkers om uit te vind. Weet eerder waar die grense lê as om die kind verwese te laat. Hou altyd die nommers van die plaaslike ACVV of Kindersorg sigbaar in die klas en verduidelik aan kinders dat hulle die reg het om oor hul probleme te praat.

Loer gerus hier indien jy graag betrokke sou wou raak by kindersorg organisasies in jou omgewing…
ACVV
PATCH
Child welfare
Lifeline national counselling line:  0861 322 322
Childline toll free counselling number: 0800 055 555
National AIDS Helpline:  0800 012 322

Laat weet ons asseblief indien jy van ander organisasie weet…

DAAR IS GERUGTE WAT DIE RONDTE DOEN DAT MENSE TANS VERSKEIE SKOOLGRONDE DOP HOU…

opknapwerk vir juffrouens

2 Kommentaar


Ek sal probeer om gepaste kursusse hier te lys…Indien jy van ‘n praatjie of ‘n kursus weet, kan jy die inligting aanstuur (remediering@hotmail.com).

Renee Lighton is Engelssprekend, maar haar sessies kan deur enige een bygewoon word. Sy is nogal ‘n inspirasie vir juffrouens en ouers wat met outjies van so jonk as 3 jaar tot so 8 of 9 jaar werk. Haar praatjies is kort en kragtig, maar vol skop (± 75 minute).

Die praatjies raak aan geletterdheid, wiskunde en skrif. Die idees is prakties, sakpas en wys jou hoe om met min fondse baie te bereik.
Jy moet Renee direk per e-pos kontak: rlighton@mweb.co.za.

Neem ‘n geldjie saam…(boeke te koop).

nog ‘n kans

Lewer kommentaar


Die aspekte wat in ag geneem word om ‘n kind terug te hou in ‘n graad, is baie omvattend.  ‘n Opvoeder sal nie sommer ‘n kind terug hou tensy dit nie in die spesifieke kind se beste belange sal wees nie.

Wat maak ek as my kind met die rapport tuis kom?

Die skool het jou reeds voorberei vir die moontlikheid van ‘n meer tyd aanbeveling.  Probeer om die goeie aspekte raak te sien.  “Sjoe! Jou skrif is baie goed en jy het ‘n goeie punt vir Lewensvaardighede gekry.  Baie geluk.  Ons sal volgende jaar aan die ander dingetjies werk.”  Oor-en-verby en roomystyd. Bêre die rapport en moet dit nie vir ander mense wys nie. Met die aanvangs van die nuwe jaar kan ‘n mens die hulp van kundiges in roep om aan die probleemareas te werk.  Die vakansie is kort en kwaliteit familietyd is belangrik.  As die outjie oor die rapport wil gesels kan ‘n mens luister.  ‘n Houding van “ek weet dat jy jou beste probeer het, maar volgende jaar gaan die werk meer bekend wees en sal jy nog ‘n kans kry”…is meer geskik as ‘n uittrapsessie.  Vir ‘n jong leerder kan ‘n mens vertel dat sy juffrou hom graag as ‘n leier vir die nuwe maats wil inspan…dink aan ‘n gepaste (positiewe) verklaring…Indien die nuus regtig moeilik is om te verwerk, kan ‘n mens ‘n gesprek met ‘n berader (sielkundige, spelterapeut, ens.) probeer.  ‘n Kind gesels dikwels met meer gemak met ‘n buite mens as met sy eie maats of ouers.

Hiermee verdere inligting oor ‘n Meer Tyd-jaar.

Herhaling van Graad 1-leerders

Herhalingsjaar en adolosente

 

Slaagvereistes

disleksie

13 Kommentaar


disleksieDisleksie dui op ‘n spesifieke lees- en spelprobleem.  Dit word nie meer so genoem nie en kundiges beskryf dit eerder as ‘n “spesifieke lees- en spelprobleem”.  Disleksie word deur baie mense as ‘n gawe beskou omdat dit mense forseer om probleme op unieke wyses op te los. Dink maar aan uiters kreatiewe mense soos Picasso en Walt Disney…wetenskaplikes soos Einstein en Edison…akteurs soos Whoopi Goldberg, Tom Cruise, Robin Williams en Keanu Reeves…sakemense soos Richard Branson…noem maar op!

Kyk na Ron Davis se studies in hierdie verband of loer in jou plaaslike biblioteek vir Ron se boeke.

Indien jy vermoed dat jou eie kleinding of ‘n kleinding in jou klas ‘n vorm van disleksie het, kan jy gerus na die volgende skakels gaan kyk.  Moet egter nie self ‘n diagnose maak nie.  Spreek ‘n kundige soos ‘n opvoedkundige sielkundige.  ‘n Diagnose verg gestandaardiseerde toetse en spesifieke kennis.

Waardevolle skakels:

rdboek

‘n stukkie navorsing oor onderrigtaal

10 Kommentaar


Na aanleiding van Boendoe se navrae, gaan ek so ‘n stukkie plaas oor die taalkwessie.  Verskoon asseblief indien dit hoogdrawend is.  Dit was ‘n navorsingstuk en is dalk meer gemik om die etniese tale.  Praat gerus as dit Grieks klink.  Ek “vertaal” graag.

Wanneer ‘n leerder in ‘n tweede taal leer is hy / sy nie noodwendig leergestremd nie, maar eerder leergeremd ten opsigte van woordeskat, taalkennis en die belangrikste aspek seker – begrip.  ‘n Persoon wat nog nie die basiese strukture en vaardighede van ‘n taal teen die ouderdom van sewe jaar (die primêre vormingsjare) baas geraak het nie, sal in werklikheid altyd ‘n agterstand hê.  Taal vorm tog die belangrikste basis en medium van kommunikasie en is nodig om inligting oor te dra en ook om inligting in te neem en te verwerk.

Om die volle omvang van die akademiese vordering van ‘n kind te begryp, moet ‘n mens eers terug gaan na die leerder se agtergrond (en ook taal agtergrond) om die oorsake en invloede op die leerder se leerprosesse te bepaal.  In Suid-Afrika (soos in baie ander wêreldmoondhede) bepaal die Grondwet dat daar elf amptelike landstale moet wees, maar word baie leerders steeds in hul tweede taal (meestal Engels) geskool.  Hierdie besluit word aan die ouers oorgelaat en daar bestaan geen duidelike wetgewing wat ouers verplig om hul kinders in hul moedertaal te laat onderrig nie. Alle Suid-Afrikaners het egter ‘n grondwetlike reg om in ‘n moedertaal onderrig te word.

In baie gevalle waar leerders swak presteer, is die oorsaak dikwels dat hulle in ‘n tweede taal skool gaan.  Hierdie feit is seker nie genoeg rede om bekommerd te wees nie aangesien daar baie gevalle is waar leerders goed tweetalig is en dus goed in ‘n tweede taal presteer.  Die probleem ontstaan egter wanneer ‘n leerder in ‘n huis groot word waar daar meer as een taal gebruik word en waar die tale ook dikwels gemeng word.  As die kwaliteit van die woordeskat en grammatika veel te wense oorlaat, sal die leerder ‘n swak taalbasis hê en hom- / haarself nie goed kan handhaaf in enige van die tale nie.  Só ‘n kind ontwikkel dus ‘n leergeremdheid weens ‘n onderontwikkelde taal.

Volgens Rodriguez, benodig ‘n kind ‘n goeie selfbeeld om sukses te behaal en om sy / haar volle potensiaal te verwesenlik op skool.  ‘n Kind wat besef dat sy taalgebruik nie op dieselfde standaard as sy klasmaats s’n is nie, kan maklik selfbewus en minderwaardig voel en dus ook swakker presteer as sy maats.

As ‘n kind in beide sy moedertaal én tweede taal kan leer, verhoog dit die kind se selfbeeld en voel só ‘n kind trots daarop dat hy twee tale kan praat en in twee verskillende kulture kan funksioneer (i.e. die kultuur eie aan sy moedertaal en ook die kultuur eie aan die tweede taal).

Rodriguez sê ook dat ‘n persoon wat tweetalig is beter kognitiewe vermoëns het, respek by ander kulture afdwing, trots is op die spesiale talent en ook beter toegerus is vir die lewe buite die klaskamer.

Dis sou dus wenslik wees indien ‘n kind aan ‘n tweede taal bloot gestel kon word in ‘n klaskamer waar beide sy / haar moedertaal en tweede taal gebruik word.  Só word die kind stelselmatig aan die vreemde taal blootgestel en kry hy / sy die geleentheid om mettertyd genoeg selfvertroue op te doen om die tweede taal te gebruik.

Volgens die NAEYC (National Association for the Education of Young Children) in die VSA, behoort die ouers die kind se moedertaal te ontwikkel tesame met die tweede taal.  Die moedertaal word gekoppel aan die kind se kultuur, sosiale agtergrond en identiteit en daarom moet die fasiliteerder ook die kind se moedertaal en kulturele agtergrond in ag neem tydens onderrigtye

Net soos wat leerders teen verskillende tempo’s ontwikkel, beklemtoon die NAEYC dat tweede taal leerders hul tweede taal op dieselfde wyse bemeester volgens die individuele potensiale.  Sommige leerders sal vir ‘n ruk lank swyg, ander sal sinsnedes en woorde oefen, ander sal hul moedertaal en die tweede taal meng en ‘n vierde groep kan selfs die taal op ‘n geradbraakte wyse met vertroue gebruik.  Al hierdie voorbeelde vorm deel van die individuele ontwikkelingsfases van die onderskeie leerders se tweede taal.  Die fasiliteerder moet dit in gedagte hou dat dit normaal is om deur hierdie fases te gaan en die kind met begrip begelei tot die ontwikkeling van goeie taalgebruik.

Watter nadele is daaraan verbonde om ‘n leerder in ‘n tweede taal te onderrig?

Na aanleiding van navorsing het NAEYC bepaal dat jonger kinders groter probleme ondervind om die oorgang vanaf die huis na die skoolomgewing te maak as die taal vreemd is.  Die nuwe omstandighede en vreemde taal kan baie intimiderend wees en die kind emosioneel labiel (deurmekaar :wink:) laat.

‘n Kind wat uit ‘n vreemde kulturele agtergrond kom, kan soms deur sy klasmaats bespot word en dít kan daartoe lei dat die leerder selfs sy moedertaal kan prysgee om sodoende sosiaal aanvaarbaar te wees.  Dít sal weer daartoe lei dat die kind se band met sy / haar kultuur verbrokkel en dat gesinsverhoudinge ook kan skade lei.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 2 142 other followers

%d bloggers like this: