Ek moes die afgelope tyd my gedagtes weer reg aanskroef om ‘n jong leerder met fyn motoriese vaardighede en oog-hand koördinasie te help. Hier is sommer so ‘n paar foto’s en oefeninge uit ons leersessies…
Die outjie sukkel met skrif en daarom het ek byvoorbeeld sy naam en syfers met kolletjieskrif getik en uitgedruk. Die naam is met breë kleeflint oorgetrek en kan hergebruik word. Hy skryf met ‘n witbordpen en dit kan herhaaldelik skoon gevee en weer gebruik word.
Dan het ons ‘n plastiese sakkie met loperige seep gevul en deeglik geseël. (Die seperigheid loop en gee mee terwyl hy skryf). Hy het eers met sy vinger op die sakkie geskryf, maar nou plaas ons dit bo-op sy naam en trek hy sy naam daarop. Sommige dae word die witbordpen ook ingespan.
Ek het ‘n oulike idee by Renee Lighton gesien – waar die outjies in room skryf. Daar is mos maar altyd ‘n bietjie ou handeroom iewers in die huis en ons het lekker daarin geoefen. Dan het ons sommer ook in sand geskryf. Al hierdie sintuiglike ervaring het tot dusver gehelp dat die outjie met meer gemak skryf. Ons hou die skrif egter groot.
Ons het ‘n gaatjiedrukker ingespan om gate om die rand van manilla / karton te druk en beoog om sommer ou polistereenbakkies vol gate te maak. ‘n Mens kan die gate soos ‘n dot-to-dot takie inspan – eers met ‘n kryt verbind en dan knip om die knip aksie te verbeter. As jy lus het kan ‘n mens wol, tou of lint deur die gate ryg.
Ons het lang wurms uit stywe klei gerol en sommer blinkertjies op die tafel gestrooi – vir die mooi. Hierdie blink wurms is in spirale opgerol en kan as ‘n plekmatjie gebruik word. ‘n Mens kan natuurlik die wurm met ‘n skêr knip – vir ‘n bietjie weerstand.
Rol klei in ‘n balletjie en druk dit plat. Skryf en teken daarin. Ons het ook die klei in ‘n slangetjie gerol en dan bo-op groot gedrukte syfers laat lê. Daarna was dit makliker om die syfers oor te skryf. As jy vas haak en vergeet, kan ‘n mens gou vinnig bo-oor die klei voel en weer probeer.
Los vorms is gesorteer volgens grootte, vorm en kleur. Daarna het ons patrone na gebou en toe probeer teken. Later het ons die vorms op ‘n pennetjiebord probeer bou en die fyn knypwerk was nogal rede vir groot inspanning. Dan het ons sommer die los vorms met behulp van ‘n wasgoedpennetjie op getel en in die bakkie gebêre – omtrent ‘n storie!
Vir nog oog-hand koördinasie oefening het ons eenvoudige doolhoftake voltooi. Die lynspasies was redelik reguit, eenvoudig en breed. Die outjie het ‘n klein magneetjie bo-op die bladsy met behulp van ‘n metaalstukkie onderkant geskuif. Na ‘n paar probeerslae is kryte in gespan.
Skryf syfers en klanke of teken vorms op polistereenbordjies en gee vir die outjie iets soos ‘n stomp borduurnaald om gate al op die lyn langs te druk. As ‘n mens gate reg deur die bordjie kan kry, kan julle selfs later borduurgare daar deur ryg en eenvoudige prente maak.
Die stempels is gebruik om visuele oefeninge te voltooi. Ons het die prentjie wat anders as die eerste een lyk met ‘n stempel gemerk. ‘n Mens kan stempels vir patroonwerk ook gebruik en hoef nie gekooptes te hê nie. Kurkproppe en knope werk net so goed.
Die vingerpoppie kom uit ‘n ou boek genaamd Doen dit vandag en is basies ‘n mannetjie sonder bene. Jy kan enige mannetjie teken en gate vir vingers daarin knip. Ons het sommer ons reeds voltooide doolhowe met dié mannetjie gevolg. Dit gee die vingertjies lekker oefening en een van die dae gaan ons die lengte van die klas plat draf.
Ten laaste is daar verskeie ander idees en oefeninge op hierdie blog. Loer gerus na die “Drukbares” hofie of tik soekterme soos abc, skryf, skrif, syfers, patrone, vorms, fynspier, handspier…by die soekblokkie in. Lekker oefen!


































Nov 25, 2011 @ 13:32:23
Hallo Juffer!
Ek het ‘n outjie is graad 3 wat ek sien vir remediering, hy druk baie hard as hy skryf en breek gereeld die potlood se punte, ek het al verskeie fyn-motoriese oefenige gedoen om beheer te versterk oor sy spiertjies is sy hande en veral vingerpunte. Ek sal nou tydens die volgende sessie mooi dophou hoe hy sy potlood vashou, ek sien jy se dat dit ook belangrik is. Het jy enige ideees hoe ek hom kan help om nie so hard te druk nie. Ek dink dit plaas baie stremming om sy hande en vingers en dit bemoeilik ook die skryfproses.
Baie dankie byvoorbaat, jou blog is waarlik inspirerend.
Nov 27, 2011 @ 19:28:00
Middag, Suz
Het jy al die outjie na ‘n arbeidsterapeut verwys? Dit kan dalk waardevol raad en hulp bied. Teen Graad 3 is baie van die “verkeerde metodes” bykans vasgelê en behoort ‘n mens vir ou laas te probeer om die greep te verbeter. As juffrou gebruik ‘n mens soms allerhande oefeninge en kreatiewe idees om die kinders te help, maar dit is eenvoudig nie so effektief soos die arbeidsterapeut se hulp nie.
Hier is verskillende inskrywings oor skrif, skryf en handspier ontwikkeling op die blog. Tik gerus soekterme soos skrif, skryf, handspier, fynspier…by die soekblokkie in om verskillende idees te kry. Baie sterkte!
Nov 28, 2011 @ 14:47:38
Baie baie dankie, dit help vreeslik baie en sal alles probeer om hom te help.
Dec 22, 2011 @ 10:43:41
Hi Juffer!
Nog ‘n idee wat jy kan inspan is om die kleintjie eers op ‘n spiëel / venster met skeerroom te laat skryf (spuit die skeerroom op die venster en laat hom dit eers rondsmeer vir ‘n ‘skryfoppervlak’). Hierdie is baie goed vir kokontraksie van sy skouergordel en dus as ‘n voorbereidingstaak vir verdere fyn motoriese take. En jy kan regtig AL die konsepte op ‘n vertikale vlak oefen, en sommer ook spons vorms / getalle / letters vasplak op die skeerroom.
En aan Suz – probeer laat jou Graad 3 outjie met ‘n uitdrukpotlood (peiser potlood?) skryf – dit leer hulle om bietjie ligter te druk. Jy kan ook ‘n rekkie om sy pols sit, en dan die potlood soos ‘n figuur-8 daaraan vasmaak, en dan rus die potlood in sy webspasie. Dis ‘n wonderlike manier om potloodgreep te verbeter, asook potloodbeheer! Kontak my gerus (cpswart@geekworld.co.za) as jy nog vashak.
Dec 22, 2011 @ 15:02:02
Vreeslik dankie, Ronél! Jy gee my ook nou ‘n paar idees vir die nuwe jaar
Jan 06, 2012 @ 10:18:17
Baie dankie Ronel, dit sal sommer baie help. Ek gaan dit vroeg-vroeg implementeer. Sal jou graag kontak as ek nog vashaak.