J en H het onlangs navrae gerig oor die verduideliking van halvering vir ‘n Graad 1-outjie.  Hiermee dan my manier van verduidelik…

Die maklikste manier om halvering te verduidelik is met ‘n paar lekkers (of kamma-lekkers).  Bespreek die term “helfte” – iets word in twee ewe groot stukke verdeelHalveer is net die “doen-woord” en beteken dat jy iets in twee stukke gaan deel.  As ons na somme of getalle kyk, deel jy gewoonlik iets tussen twee mense uit sodat elkeen dieselfde hoeveelheid kry.

Aanvanklik leer die outjies net om ewe getalle te verdeel.  Neem ‘n paar lekkers of tellers en verdeel dit gelykop tussen twee mense.  Volg die speletjie van “een vir jou, een vir my” totdat alles uit gedeel is.  Vra dan vrae soos hoeveel het jy? Hoeveel het ek?  Is dit dieselfde hoeveelheid? Speel met ‘n paar getalle tussen 1 en 10.

Verdeel sommer ‘n papier om aan te teken watter getalle verdeel kon word en watter nie.  Alle skole leer nie dieselfde tipe terme vir die outjies aan nie, maar dit sal seker nie te voor op die wa wees om te wys na die ewe getalle en te noem dat hierdie getalle in “ewe veel vir jou en vir my” verdeel kon word nie.  Hulle is EWE getalle en die ander is ONEWE getalle.

AS die outjies ‘n “res” moet verdeel, kan die lekkergoed in koekies verander.  Dan verdeel julle dus ‘n onewe getal tussen twee maats (maak sommer ‘n paar stories op) en as een koekie oorbly – deel hulle dit.  As jy 5 verdeel is dit dus 2 en ‘n half (of 2 en ‘n halwe koekie).

Alle wiskunde verduidelikings begin met fisiese of konkrete items, sodat die outjies dit kan skuif en manipuleer (by pak, weg neem, verdeel…).  Later teken hulle prentjies om die konkrete tellers voor te stel en heelwat later werk hulle net met syfers en simbole.  Dit is egter baie voordelig om maar altyd ‘n houer met tellers naby te hê om met die somme te help.

Skryf so 3 tot 4 woordprobleme op ‘n bladsy neer en werk dit saam uit…(lees hardop saam in Graad 1)  bv.:

Pappa koop 4 stukke droëwors.  Hy verdeel dit gelykop tussen julle twee.  Hoeveel stukke kry elkeen?
Pappa: ___
Johan:  ___

Mamma koop 6 weense worsies.  Sy deel dit gelykop tussen julle twee.  Hoeveel worsies kry elkeen?
Mamma:  ___
Johan:  ___

Pappa koop ‘n pizza.  Daar is 8 skywe.  Hy deel dit gelykop tussen julle twee.  Hoeveel stukke pizza kry elkeen?
Pappa:  ___
Johan: ___

Laat weet gerus watter metodes vir jou werk…