Hier is ‘n paar idees vir tuis-oefeninge. Druk die voorbeeld uit en sit dit langs die kleinding neer of plak dit teen die muur vas. Gebruik ‘n “lyntjieboek” om in te oefen. Ek is nie seker of die prente se skaal korrek sal wees indien jy dit direk druk nie. Indien dit wel werk – kan jy die bladsy in ‘n lêersakkie bêre en ‘n dun koki (witbord veselpen) gebruik om dan daarop te skryf. ’n Mens kan die sakkie vinnig skoon vee en môre weer oefen.
Die drukskrif oefeninge is nog te moeilik vir Graad 1. Doen dit eerder met Graad 2- en 3-leerders. Die lopende skrif-oefeninge kan met kinders van Graad 2 af op gedoen word.
Moenie van CNX vergeet nie…So skryf ‘n mens op lyne:
Vir linkshandige outjies




















Mar 02, 2010 @ 01:35:06
Hallo Almal.
Juffrou dankie vir die hulp wat jy ons bied. Ek is ‘n mamma wat tuisondderig gee en jou webblad help baie.
Baie Dankie
Elmarie
Mar 02, 2010 @ 13:55:31
Welkom, Elmarie
Vra gerus as ek kan help…Indien ek nie kan help nie, sal ek vir jou in die regte probeer stuur
Apr 18, 2012 @ 11:23:38
Hallo Juffrou,
Ek het nou eers jou web blad ontdek en daar is baie oulike idees. Kan jy dalk help. My dogter van 10, skryf regtig baie onleesbaar en sy sukkel met konsentreer in die skool. Hoe kan ek haar help met haar konsentrasie en skrif.
Vriendelike groete
Trudie
Apr 18, 2012 @ 19:25:08
Hallo, Trudie
Ek weet dat arbeidsterapeute dikwels nie kinders in die ouer grade sien nie, maar sou beslis vir ‘n opinie en ‘n tuisprogram gevra het. Onduidelike skrif kan ‘n mens benadeel – veral as die onderwyser nie die antwoorde kan merk nie.
Dalk kan julle poskaarte vir die familie skryf of boodskappe vir ander gesinslede op ‘n skryfbordjie in die kombuis laat. Só raak ‘n mens meer bewus dat “ouma nie meer so mooi kan sien nie” en word daar meer moeite gedoen. Prys die netjies skrif en moet eerder niks oor ‘n “woelige” skrif sê nie.
I.v.m. die konsentrasie: Loer gerus na die idees in verband met aandagspan en dieet. Oefen tuis deur byvoorbeeld realistiese tydperke met behulp van ‘n wekker (“egg timer”) af te baken en dan ‘n takie te gee (bv. 5 somme, 5 minute). Pas die tye dan by die uitdagings aan en kyk of dit vir julle werk. ‘n Ander opsie is om ‘n groot muurhorlosie aan te bring en ‘n rooster vir huiswerk op te stel. Loer dan nou en dan in om te sien of alles volgens plan verloop. Jy kan die vakke “kodeer” volgens kleure en dan die tas en rooster daarby aanpas. So sal poplap weet waar haar boek is, hoe dit lyk en dat sy wiskunde van bv. 15:00 – 15:20 hersien. Die kleur-indelings werk goed as ‘n mens ‘n struktuur en roetine probeer vas lê.
Praat gerus met die opvoeder en vind uit of die konsentrasie in die klas ook ‘n probleem is. Indien wel, kan ‘n mens vir ‘n plasing langs ‘n helpertjie of voor in die klas vra. ‘n Pediater sal egter die beste opinie in hierdie verband kan gee